Fokofpolisiekar Gee Hulle Nuwe Album ‘n Naam

0
1538
views

Goeie nuus! Die komende naweek kom Fokofpolisiekar hul belofte vir ‘n gratis vertoning aan hul Gautengse aanhangers na, maar intussen is die manne lekker doening in studio om hul derde vollengte album op te neem… en die album het al ‘n naam!

Jaco S. Venter het verlede week sy dromme by Heritage Studios opgeneem. “Alles klink lekker en natuurlik. Ons poog om ‘n meestal organiese tromklank op hierdie album te hê,” sê Jaco.

Hierdie week is dit baskitaarspeler, Wynand Myburgh, se beurt om sy aandeel vir die album neer te lê by Soft Light City. “Ek voel geseënd om by so baie opnames betrokke te kon wees oor die jare, maar ek voel super geseënd om op Fokofpolisiekar se derde album in ons 14 jaar se bestaan te kan werk. Baie dankie aan almal vir al die ondersteuning oor die jare. Julle gee musiek ‘n lewe van sy eie. Ek raak regtig into hierdie album en ek dink dis by vêrre Fokof se beste materiaal tot op datum,” sê Wynand.

Fokofpolisiekar-720x480 Fokofpolisiekar Gee Hulle Nuwe Album 'n Naam

Behalwe vir As jy met vuur speel sal jy brand, het dit net organies so gebeur dat dit ‘n liedjie se titel is wat die titel van Fokofpolisiekar se albums word, soos gesien kan word met Lugsteuring, Monoloog in Stereo, Brand Suid-Afrika, Swanesang en Antibiotika.  Dit het hierdie keer dieselfde uitgewerk.

Wynand Myburgh vertel: “Hunter Kennedy, Fokofpolisiekar se hoof liriekskrywer, het ‘n liedjie geskryf met ‘n koor waarin die woord “selfmedikasie” is en dit het ‘n werkstitel geword vir die liedjie. Toe ons begin rond krap vir name vir die album het ons het probeer om uit die boks te dink en nie ‘n liedjie se titel te vat nie, maar op die ou einde het Selfmedikasie, soos al die ander album se titels, gestick omdat ons gevoel het dis die sterkste.

Fokofpolisiekar vir ons was nog altyd ‘n tipe van ‘n selfmedikasie. Ons skryf hierdie musiek oorspronklik vir onsself en dis hoe ons Fokof benader: waarvan hou ons vyf?  Wat wil ons graag hoor? As al vyf sê “ja dit maak vir my sin” of hou hoe van hoe dit klink, dan raak dit ‘n song. So fisies en ook spiritueel het Fokofpolisiekar selfmedikasie geword vir ons en ons dink dieselfde geld vir ons fans.”

Ten midde van Fokofpolisiekar se Thundafund skarefinansieringsveldtog, het hulle ‘n gratis vertoning aan Gautengse aanhangers belowe sou hulle die R800 000 merk slaan, net soos hulle ‘n gratis vertoning aan Kaapstad belowe het toe hulle R700 000 ingesamel het. Die groep het daardie bedrae oorskry en met behulp van 1,531 aanhangers se steun het hulle 217% van hulle oorspronlike droom doel van R500,000 ingesamel en die veldtop op R1,082,780 afgesluit.

Hierdie Sondag, (die 18de Junie), is die dag wat Gauteng se aanhangers hul gratis Fokofpolisiekar vertoning kry om dankie te sê vir die wonderlike ondersteuning.

Die vertoning gebeur by Rumours Rock City in Cresta, Johannesburg. Behalwe Fokofpolisiekar gaan Stones & Gold, Howie Combrink, The Sextons, Made for Broadway & WONDERboom ook speel. Deure maak om 1:30 PM oop en Fokofpolisiekar is om 6 PM op die verhoog. NET 750 kaartjies is beskikbaar vir die show. Kontak Fred telefonies by 079 825 7995 vir meer inligting.

Wees op die uitkyk vir gereelde opdaterings in die Music kategorie op Running Wolf’s Rant

Do you like what you're reading on Running Wolf's Rant? Join Our Cub House on Facebook!

Want to write for us? Click here to find how you can become part of the Wolf Pack!