Nuwe Karen Zoid Album Oppad

0
901
views

Goeie nuus vir musiekliefhebbers is dat Karen Zoid ‘n nuwe album vry gaan stel op die 11de Augustus 2017. Dit is 6 jaar vandat Karen Zoid laas `n Afrikaanse solo-album uitgereik het. Sedertdien het sy met haar TV-program, vier Republiek van Zoid Afrika-samewerkingsalbums en 27 iTunes No.1-treffers groot sukses behaal.

Karen Zoid se nuwe album ‘OP DIE OOMBLIK’ is die eerste deel van drie verskillende hoofstukke in Zoid se nuwe liedjieboek. Zoid se super-gelaaide rock energie en haar vermoë om ook onvoorspelbare en soms selfs die mooiste delikate liedjies te skryf, raak al vir jare aan TV- en konsert-gehore se harte – én senuwees! Hierdie diversiteit wys op die album soos die liedjies wissel tussen klassieke rock, kragtige ballades, asook tong in die kies en diep, sielvolle komposisies – in ware Karen Zoid styl.

Karen-Zoid-foto-600x400 Nuwe Karen Zoid Album Oppad

Zoid en haar band, Schalk van der Merwe, Henry Steel en Tim Rankin speel al sewe jaar saam. Hulle het verlede jaar met Kyle Petersen op klavier begin werk en Kyle het ook saam geskryf aan die liedjie “Vir Jou.”  Hierdie eerste enkelsnit wat op Vrydag 4 Augustus op iTunes uitgereik word, is ‘n liefdeslied vir grootmense.  Zoid : “Ware liefde is iets wat eers werklik waardeer kan word deur iemand wat al ‘n paar myle gedoen het op hierdie besoedelde albastertjie. Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”

Al is die musiekbedryf tans in ‘n sogenaamde “enkelsnit era” is die maak van `n album nog steeds vir Zoid meer vervullend.  Sy : “Ek wil graag deel voel van die huidige era, eerder as om te veg of maak asof dit nie so is nie. Gewoonlik skryf ek twintig of dertig en dan kies ek die “beste” 12 of so om ‘n album op te maak. Met hierdie liedjies het ek besluit om die eerste paar songs wat ek skryf net te voltooi en dadelik op te neem. Ek wil die oomblik vasvang al weet ek dis onmoontlik. Ek is besig om te probeer. Ek wil dit beskryf en verken en ten volle ervaar. Dis ook nie net ons musiekwêreld wat in ‘n ‘enkelsnit era ‘is nie, die hele wêreld is eintlik ook. Iemand sê iets in Amerika en dit affekteer die hele Midde-Ooste. Oombliklik.”

Bo en behalwe die uitreiking van die album, is daar ook nog twee opwindende datums om na uit te sien: Op 20 Augustus saai kykNET en ShowMax `n kortfilm van Karen Zoid uit. Die film is ‘n visuele album.

Karen Zoid maak op 24 Augustus weer geskiedenis deurdat sy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar gaan wees wat `n visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het sluit Beyonce, Drake en Brad Paisley in.

Kyk na die musiek video vir haar liedjie “Vir Jou” (die eerste enkelsnit op haar nuwe album) hier onder:

Nogals pragtig ne? Jy kan hierdie snit op iTunes koop by hierdie skakel. Twee ander nuwe liedjies sal ook binnekort beskikbaar op iTunes – “Dames en Here” (op 7 Augustus) en “Vonkelvrou” op 9 Augustus (Vrouedag).

OP DIE OOMBLIK – Deel Een is opgeneem by Bellville Studios onder leiding van musiek-regisseur Theo Crous. Al sewe liedjies word op Vrydagaand 11 Augustus uitgevoer op RSG. Skakel in vanaf 20h00 op 100 -104 FM of op DSTV kanaal 813.

Wees op die uitkyk vir gereelde opdaterings in die Music kategorie op Running Wolf’s Rant.

Do you like what you're reading on Running Wolf's Rant? Join Our Cub House on Facebook!

Want to write for us? Click here to find how you can become part of the Wolf Pack!