Andries Bezuidenhout van die destydse Brixton Moord en Roof Orkes het pas sy 3rde solo album uitgereik, ek het met hom gesels oor dit en so paar ander goedjies. Hier is wat hy te sê gehad het.
Vertel ons van die Brixton Moord en Roof Orkes dae. Wat het julle in daardie jare inspireer?
Ons inspirasie was nog altyd maar Joburg, asook die musiek waarna ons self geluister het, van Koos Kombuis en Valiant Swart tot Velvet Underground en Tom Waits. Die lede van die band het mekaar in die laat-1990s in Brixton ontmoet, in ʼn underground bar genaamd The Abelarde Sanction. Dit was kruipafstand van my huis en een van die minder flashy venues waar bands kon gig.
Ek het as solo-musikant begin met open mic-aande. Ek was so senuweeagtig dat ek elke keer as ek optree gemaak het of ek eintlik ʼn band het en dat hulle ongelukkig nie daar kon wees nie. Ek het die band, tong in die kies, die Brixton Moord & Roof Orkes genoem, omdat ons in Brixton gewoon het en die polisie het nog ʼn berugte eenheid met daardie naam gehad. So eintlik ʼn grap.
Toe kom meld daar sulke cruffy dudes aan, een vir een. Eers Ockert Greeff, wat ek vantevore geken het. Hy was die drummer. Toe Steve Savage op bass, maar hy verhuis toe Zambië toe. Drikus Barnard het hom vervang en Drikus se broer Gerhard het ons op lead kitaar gejoin. Toe ons weer sien speel ons by Oppikoppi en ander festivals, word op die radio geplaylist en ons video’s word op TV gespeel.
Wat was vir jou die hoogtepunt van die band se sukses in daardie tyd?
Ek dink van die sets by Oppikoppi – uitstekende klank en ʼn gehoor wat jou songs ken en saamsing. Moeilik om daardie high te beskryf. Dalk ook tye op die pad, met toere. As jy laat in die nag deur die Karoo ry en ʼn nuwe tune kom na jou toe, so uit die donker. Dit het met “Fortuinverteller” gebeur – die woorde en wysie het saam gebeur. Maar ook om in plekke te gaan gig waar ander bands nooit gekom het nie – klein bars in die platteland.
Jou derde solo album “Onplaats” is pas uitgereik, vertel ons van die gevoel vd album?
Dit het my eerste love song ooit, genaamd “Somer”. Ek haat soetsappigheid, so ek is baie versigtig vir love songs. Ek hoop my eerste poging is nie soetsappig nie. Die album is ook meestal akoesties, met ʼn sterk fokus op die woorde, soos my vorige twee solo-albums. Ek het egter meer tyd en aandag aan die verwerkings spandeer, so daar is baie meer musikale lae. Die backing vocals is baie belangrik, deels met Leonard Cohen se benadering as inspirasie. Daar is ook agtergrondklanke om atmosfeer te skep. Verder is die rhythm section ʼn fondament aan die onderkant – Jean Marais op drums en Mark Ellis op fretless bass. Hulle het ʼn uitstekende job gedoen.
Wat beteken Onplaats?
Die album word net op die web vrygestel, so dis nie ʼn plaat nie – dis onplaats. Maar “plaats” beteken ook “plek” in Nederlands. Baie van die lirieke handel oor mense in onmoontlike plekke – plekke wat “onplaats” of “onplek” is.
Jy het ook al 2 digbundels publiseer. Hoe besluit jy as jy skryf, watter skrewe is gedig en watter `n lied?
Die moeilikste vir beide gedigte en lirieke is om ʼn oorspronklike idee te kry. As die idee eers daar is, loop dit makliker. Dan skryf ek, vrye assosiasie, sonder vorm. Ek skryf bladsye vol. Dan sal ek tipies net die beste lyne kies en binne ʼn struktuur begin plaas. Om een of ander rede weet ek redelik vinnig op ek ʼn gedig of ʼn liriek wil skryf. ʼn Liriek het ʼn duideliker vorm en rympatroon – jy’t tipies ʼn vers wat jy met ʼn refrein afwissel, soms met ʼn brug, wat ʼn tipe oorgang na die einde van die song toe maak. Gedigte se vorm is meer kompleks en meer versteek.
Boonop skilder jy nog ook. Die album omslag is eintlik een van jou kunswerke. Vertel ons die storie agter hierdie werk?
Ek skilder meestal landskappe in olieverf, soms ook interieurs. Daar is ʼn baie sterk skakel tussen my gedigte, lirieke en landskapskilderye. Die groot tema in my lewe is hoe ʼn mens betekenis vind in ʼn landskap waarin jy diep gewortel is, maar waarvan jy vervreem is. Dis daardie kombinasie van afstand en verbintenis wat my so boei.
Wat is jou planne vir die res van die jaar?
My volgende album is min of meer klaar, maar dis toonsettings van gedigte en covers van mense se musiek wat ek bewonder. Ek werk ook aan ʼn volgende digbundel en daar’s altyd skilderye om my besig te hou.
Ek wil vir Andries Bezuidenhout bedank vir hierdie onderhoud en ek wens hom als van die beste toe met sy toekomstige musikale avonture. As jy nie sy solo-werk ken nie, luister na “Vetrek” hier onder
As jy hou van hierdie song, luister na Andries Bezuidenhout se nuwe album HIER. Dis beskikbaar op al die bekende stroom platforms.
Wees op die uitkyk vir gereelde opdaterings in die Music kategorie op Running Wolf’s Rant.
Like what you just read? Join The Wolf Pack! Subscribe To Our Newsletter.
Explore our website, check out our Featured Articles or scroll down to see the articles that are related to this article below. We've been around since 2008, so there's plenty of content.
If you're in South Africa and looking for something to do, check out The SA Gig Guide (on our sister site SA Music Zone).
If getting more knowledge is part of your DNA - Check out the latest posts on Interesting Facts.