Sonder Onderbroeke is terug met ‘n nuwe enkelsnit, “Sê My Hoe?”. Wat gebeur wanneer jy besef jy probeer hard om ‘n beter mens te wees, maar val steeds vas in dieselfde patrone?
Dit is presies die ongemaklike, eerlike ruimte wat die opkomende groep betree met hierdie enkelsnit. Hierdie introspektiewe liedjie ondersoek identiteit, selfverbetering en die skuldgevoel wat gepaard gaan met die stryd om vrede te maak met wie jy besig is om te word.

Die liedjie is sowat ‘n jaar gelede gesamentlik deur al drie lede van die groep geskryf en gekomponeer. Braam het gefokus op die lirieke, terwyl Adriaan en Henro die toon vir die komposisie aangegee het.
Sonder Onderbroeke verduidelik dat die snit nie gebore is uit ‘n spesifieke verhouding of oomblik nie, maar eerder uit ‘n tydperk van stagnering wat noodgedwonge introspeksie meegebring het.
Dit weerspieël die frustrerende besef dat, ten spyte van jou beste pogings om vorentoe te beweeg, jy tog steeds vasgevang voel. Hoewel die lirieke persoonlike elemente in het, is die emosies universeel.
Meer inligting oor Sonder Onderbroeke se nuwe enkelsnit
Die liedjie konfronteer luisteraars byna dadelik met die werklikheid dat wilskrag alleen nie altyd genoeg is nie. Die reël “Vergewe my, want ek leer nie uit my foute nie,” erken die frustrasie en skuldgevoel wanneer ‘n mens aanhou om dieselfde misstappe te begaan. Die prys wat daardie oordeelsfoute kos word beklemtoon met die liriek “My skuld raak duur.”
Hoewel die liedjie godsdienstige terminologie soos “sonde” en “hemel” gebruik, is dit in wese ‘n worsteling met die self. Die “hemel” in hierdie konteks verwys eerder na die bestemming van jou ideale self, oftewel die persoon wie jy nog altyd eendag wou wees. Die liedjie krap verder in die wond deur te vra, “Is jy tevrede met jou lewe, doen jy waarvan jy hou?”
Vir Sonder Onderbroeke is dit ‘n vraag waarmee hulle self worstel en wat as Afrikaners dikwels moeilik is om eerlik in die oë te kyk. “Jy kan baie dinge bereik en steeds nie van die persoon hou wat jy geword het nie,” sê hulle. Hulle merk sarkasties op dat niemand werklik ooit by ‘n “eindproduk” uitkom nie; daar is altyd plek om te verbeter.
Eensaamheid is ‘n sentrale tema wat in die liedjie na vore kom deur twee uiteenlopende omstandighede: om op ‘n Sondagaand alleen TV te kyk of om saam met vreemde mense tot laat in die aand te dans. Die lirieke tref ‘n diep snaar as dit kom by die behoefte om iewers te behoort.
In sy wese is “Sê My Hoe?” egter ‘n identiteitsoektog en nie noodwendig net ‘n pleidooi om te verbeter nie. Die groep hoop dit spoor luisteraars aan om ongemaklike vrae oor hul eie geluk en keuses te vra.
Die snit probeer nie noodwendig antwoorde bied nie, maar eerder as die stem dien vir die ongemaklike vraag wat almal probeer vermy. Wat die luisteraar besluit om met die antwoord te doen, hang heeltemal van hulle eie keuses af.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music News kategorie op Running Wolf’s Rant.
Wil jy jou besigheid, gebeurtenisse, produk of diens bemark? Ons kry meer as 14,000 bladsy-kyke elke maand! Kontak Ons vir bemarkings en reklame opsies.

