Mompel kletsrymer, Angie oeh, is hier om netjies ‘n gaping in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie te vul. Die nuwe ‘It Girl’ op die musiektoneel is vars, skerp, oorspronlik en sy weet waaroor sy gaan.
Meer inligting oor Angie oeh
Angie oeh het haar wegbreek enkelsnit, “Dis jou wyfie” in haar kas by haar huis in Die Moot, Pretoria, op haar ou Samsung A23 foon opgeneem. Omdat sy nie ‘n rekenaar kon bekostig nie, het sy nie net haar stem op haar foon opgeneem nie, maar ook haar “beats” daarop gemaak.
“Dis jou wyfie” is einde 2021 uitgereik en het dadelik aandag ontlok. Hierdie vrystelling het gelei tot ‘n samewerking met kletsrymer, Loufi, getiteld “Dis jou wyfie (Remix)”.
Kort daarna is sy uit haar slaapkamer gehaal en op Fokof Bar se verhoog gesit om vir Fokofpolisiekar te open vir haar heel eerste vertoning ooit. Sedertdien is sy gereeld op die verhoog by ander vertonings en by groot konserte te sien.
‘n Groot samewerking op die enkelsnit saam met Jack Parow, “Meisies & Partytjies” het vinnig gevolg en nou sien ons die vrystelling van haar debuut kortspeler, Sex in Afrikaans.
Die eerste enkelsnit vanaf hierdie kortspeler is “Big Booty Bitch” saam met Van Pletzen wat op 6 Mei vrygestel is. Peach van Pletzen het Sex in Afrikaans by sy studio, Planet Awesome, vervaardig.
Angie oeh vertel ons meer oor Sex in Afrikaans
“’Sex in Afrikaans’ is geïnspireer deur wangedrag, frustrasie en seks. Ek maak musiek wat kwaad maak en gesprek uitlok. Dis ‘n in-jou-gesig zap vir seksisme, homofobie, geslagsgebaseerde geweld en ongelykheid. Hierdie album is ‘n ode aan vroue, aan tieties, en meeste van alles… aan dans. Kom ons wys hulle hoe ons in opstand kom in Afrikaans. Peace.”
Jy kan die EP HIER stroom / aflaai.
Wees op die uitkyk vir gereelde opdaterings in die Music kategorie op Running Wolf’s Rant.