Met haar nuwe enkelsnit, “Mooiste Monster”, verander Tuin die woorde wat eens gebruik is om mense af te breek in ’n kragtige verklaring van identiteit, selfliefde en vryheid.
“Mooiste Monster” is ’n emosioneel gelaaide poplied met siel wat praat namens enigiemand wat al laat voel is dat hulle te vreemd, te gebroke of eenvoudig nie goed genoeg is nie.

Deur eerlike lirieke, ’n kragtige melodie en ’n vertolking wat van kwesbaarheid na onwrikbare selfvertroue groei, herinner Tuin luisteraars daaraan dat andersheid nie iets is waarvoor ’n mens hoef weg te kruip nie.
Die lied begin vanuit ’n plek van verwerping en onsekerheid, met die verteller wat terugdink aan die woorde van mense wat haar probeer verander of in ’n boks probeer plaas het. Alhoewel “Mooiste Monster” deur Jakkals Vibes geskryf is, het die lied Tuin onmiddellik op ’n diep persoonlike vlak geraak.
Ná haar eie ervaring in ’n toksiese verhouding, waarin haar waarde en identiteit herhaaldelik afgebreek is, het sy ’n besonder sterk verbintenis met die boodskap gevorm.
Vir Tuin is die titel ’n antwoord aan elke persoon wat haar – of enigiemand anders – soos ’n monster probeer laat voel het
“Ons almal is al op een of ander manier laat voel dat daar iets verkeerd met ons is,” vertel sy. “Vir my is ‘Mooiste Monster’ ’n antwoord. Dit sê: Jou woorde kan my nie meer onderkry nie, want ek het myself lief en ek weet wie ek is.”
Die lied neem die luisteraar op ’n reis vanaf verwerping en skaamte na bevryding. Beelde van as, kettings, donkerte en ’n gekraakte spieël verteenwoordig die letsels wat ander mense se woorde en optrede kan laat. Tog bly die karakter nie vasgevang in die pyn nie. Sy staan op, aanvaar elke deel van haarself en verklaar uiteindelik dat sy vry is.
Die koor vorm die emosionele hart van die lied, met ’n kragtige verklaring van selfaanvaarding en bevryding. Die “kettings” verteenwoordig volgens Tuin die woorde en dade van mense uit die verlede wat ’n mens steeds kan saamdra lank nadat ’n verhouding of situasie geëindig het.
“Mooiste Monster” moedig luisteraars aan om daardie kettings doelbewus los te maak en te besef dat niemand jou siel, identiteit of hoop van jou kan wegneem nie.

Die herhalende verklaring “Ek bly hier” dra ook besondere betekenis. Dit gaan nie bloot daaroor om van pyn bevry te word nie, maar om op te hou wegkruip. Dit is ’n besluit om jou plek in die wêreld voluit in te neem, selfs wanneer ander jou probeer verklein.
“Wanneer iemand jou seergemaak het, wil jy soms wegkruip of weghardloop omdat jy bang is,” verduidelik Tuin. “Maar dit is belangrik om jou man te staan. In daardie oomblikke wys jy vir jouself hoe sterk jy werklik is.”
Die boodskap van die lied strek verder as Tuin se eie verhaal. Sy hoop dat dit ook kinders en jongmense sal bereik wat geboelie, uitgesluit of volgens onrealistiese standaarde beoordeel word.
Volgens haar begin boeliegedrag nie noodwendig by kinders nie, maar word dit dikwels aangeleer deur die manier waarop volwassenes met en oor mekaar praat. In ’n wêreld waar sosiale media mense voortdurend aan kritiek, vergelyking en vervormde ideale blootstel, wil “Mooiste Monster” luisteraars herinner dat hul waarde nie deur kommentaar, voorkoms of ander se verwagtinge bepaal word nie.
“Ek hoop kinders kan die lied hoor en weet dat dit nie saak maak wat iemand anders vir jou sê nie,” sê Tuin. “Jy is mooi, jy is geliefd en niemand kan vir jou anders vertel nie.”
Musikaal beskryf Tuin die enkelsnit as “pop met siel”. Die laer register van die verse weerspieël die kwesbaarheid en swaar emosies waarmee die verhaal begin, terwyl die koor en brug al hoe groter en kragtiger word. Hierdie vokale ontwikkeling versterk die karakter se reis vanaf gebrokenheid na selfvertroue en bevryding.
Die produksie is behartig deur Tertius Humaan van Laughing Lamp Records. Tuin het drie maande lank haar stem voorberei om die lied se wye vokale omvang en veeleisende hoë note met die nodige krag en emosie te kan vertolk. Die instrumente is ook lewendig oorgespeel om ’n voller, organiese klank aan die opname te gee.
Die musiekvideo, vervaardig deur Marlie van Oudtshoorn van Unbreakable Media, stel luisteraars bekend aan ’n unieke karakter genaamd Mossie. Mossie is ’n sogenaamde monster wat alledaagse dinge saam met “normale” mense doen. Hoewel hy nie altyd heeltemal inpas nie, is hy die gelukkigste monster in die kontrei.
Deur Mossie se verhaal word die lied se ernstige boodskap met lig, speelsheid en ’n tikkie kinderlike verwondering aangebied. Die karakter beliggaam die vryheid wat ontstaan wanneer ’n mens ophou om ander se idee van normaal na te jaag en bloot gemaklik raak met wie jy is.
Kyk die video vir “Mooiste Monster” hier onder:
“Mooiste Monster” is nie ’n lied wat pyn ontken nie. Dit erken die wonde, die donker oomblikke en die moeilike proses van vergifnis. Tog weier dit om daar vas te steek. Dit is ’n lied oor die keuse om weer op te staan, jou waarheid terug te neem en elke deel van jouself – selfs die dele wat ander nie verstaan nie – met trots te aanvaar.
“Ek wil hê mense moet ná die eerste luister voel dat hulle oukei met hulself kan wees,” sluit Tuin af. “Selfaanvaarding bring ’n vrede waarna ons almal soek. Jy verdien goeie, gesonde mense in jou lewe. Jy verdien beter as toksiese verhoudings. Net jy kan jy wees – wees dit voluit.”
“Mooiste Monster” is Tuin se verklaring aan die wêreld:
“Dis wie ek is.
Monster.
Ek bly hier.”
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op Running Wolf’s Rant.

