Showmax het pas die lokprent vir Koek vrygestel en almal wil ’n stukkie hê. Die eerste episode van hierdie reeks sal binnekort beskikbaar wees om te stroom op Showmax.
Meer inligting oor Koek
As die Kaapstadse huisvrou Christelle Smit bewyse ontdek dat haar man ’n verhouding met ’n ontkleedanseres genaamd Candi Floss het, neem haar ondersoek haar binne ’n wêreld wat hemelsbreed verskil van die noordelike voorstede-utopie waarmee sy bekend is.
“Hierdie is die storie van ’n vrou wat alles moet verloor om haarself te vind,” vertel die Safta- en Silwerskermbekroonde reeksleier Christiaan Olwagen, wie se vorige reeks, Recipes for Love and Murder, nou reeds aan meer as 90 lande verkoop is. Sy film, Kanarie, is ook vir ’n GLAAD Media-toekenning vir Uitstaande Film – Beperkte Vrystelling benoem.
Cindy Swanepoel, wat verlede jaar Safta- en Silwerskermtoekennings vir haar rol as Annelize in Binnelanders gewen het, vertolk die hoofrol van Christelle in Koek, met die legende Sandra Prinsloo as ’n bendebaas met voorliefdes vir brandewyn, sigare, luiperdpatrone – en niere steel. Gou is Christelle by haar in die skuld.
“Cindy lewer die vertoning van haar lewe: sy is pragtig, sy is snaaks, sy is hartseer en sy is sexy,” sê Christiaan. “Jy voel regtig vir haar.”
Cindy en Christiaan deel ’n wedersydse bewondering vir mekaar. “Ek wou ook nog altyd iets doen wat Christiaan Olwagen betrek en om ’n hoofrol te speel in ’n reeks wat so oorspronklik en anders en waaghalsig is, was vir my so ’n massiewe voorreg,” sê Cindy. “Dit is iets wat ons nog nie in hierdie land gesien het nie.”
Die misdaadkomedie is grootliks in Kaapstad se noordelike voorstede geskiet, waaronder in Lush, ’n klub vir volwasse vermaak, wat instaan as die fiktiewe Koeksusters. Lush het die rolverdeling dansopleiding en leiding gegee om die ontklee-ervaring so outentiek as moontlik te maak.
Die lokprent gee vir ons ’n eerste blik op die volgepropte rolverdeling wat Silwerskermwenners Stian Bam (Die storie van Racheltjie de Beer), Jacques Bessenger (Donkerbos), Dawid Minnaar (Legacy) en Carel Nel (Gaia), asook Safta-benoemdes Ashley de Lange (G.I.L.) en Vinette Ebrahim (Barakat, Skemerdans) insluti. Daar is selfs ’n seldsame kameevertoning deur die kletsrymer Jack Parow, wat ook nuwe musiek tot die klankbaan bydra.
“Sandra en Dawid speel gewoonlik die eerbare mense, maar hulle speel skurke baie goed,” sê regisseur en kinematograaf Johannes Pieter Nel. Nel het verlede jaar vir beste kinematografie by die Silwerskermfees gewen vir sy werk op Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak.
Hy is ook aan die stuur van Magda Louw, waarvoor Desiré Gardner die toekenning vir beste akteur in ’n komedie by dieselfde toekennings gewen het. “Ons plaas bekende akteurs in vars en gewaagde rolle wat ons gehoor gaan skok en vermaak; hulle is in vir ’n bederf.”
Koek is deur Wolflight Films vervaardig en première op Showmax op 29 Februarie 2024 met nuwe episodes op Donderdae tot 2 Mei 2024.
Koek is nuutste toevoeging van bekroonde Afrikaanse misdaadreekse op dié stroomplatform, en bou voort op die sukses van Donkerbos, wat vir die Berlinale Series Market Selects gekies is; Spinners, wat die eerste reeks uit Afrika is wat aan Canneseries deelgeneem het; en Trompoppie, oor ’n span hoërskool-trompoppies wat die een ná die ander dood opduik.
Kyk die lokprent hier onder:
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Television kategorie op Running Wolf’s Rant.
Like what you just read? Join The Wolf Pack! Subscribe To Our Newsletter.
Explore our website, check out our Featured Articles or scroll down to see the articles that are related to this article below. We've been around since 2008, so there's plenty of content.
If you're in South Africa and looking for something to do, check out The SA Gig Guide (on our sister site SA Music Zone).
If getting more knowledge is part of your DNA - Check out the latest posts on Interesting Facts.