Jy kan vanaf hierdie Donderdag, 2 Mei 2024, al tien episodes van die hoogs aangeskrewe misdaadkomedie, Koek, op Showmax binge.
Meer inligting oor Koek
As die Kaapstadse huisvrou Christelle Smit bewyse ontdek dat haar man oënskynlik ’n buite-egtelike verhouding het met ’n ontkleedanseres, ene Candi Floss, neem haar ondersoek haar na ’n wêreld wat ver verwyderd is van die voorstedelike utopie waaraan sy gewoond is.
Cindy Swanepoel, wat verlede jaar Safta- en Silwerskerm-toekennings vir haar rol as Annelize in Binnelanders gewen het, vertolk die rol van Christelle in Koek, met die skermlegende, Sandra Prinsloo, as die bendebaas met ’n voorliefde vir brandewyn, sigarette, luiperdpatrone… en niere steel.
Soos Leroy Marc op Kaya 959 geprys het: “Koek het my op die voorpunt van my stoel gehad… Dit is regtig baie pret.” Of soos Tat Wolfen op MixFM dit gestel het: “Koek is ’n verstommende tuimeltreinrit.”
Dié Showmax Original, met ’n R18 DTNSG-ouderdomsperk, is geskryf deur die SAFTA- en Silwerskermbekroonde reeksleier Christiaan Olwagen (Kanarie, Recipes for Love & Murder),terwyl die regie en kinematografie deur die Safta- en Silwerskermbekroonde regisseur en kinematograaf Johannes Pieter Nel (Magda Louw, Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak, Die Brug) behartig is.
Die resensent Leon van Nierop beskryf Nel as “een van Suid-Afrika se belowendste jong talente” in sy Rapport-resensie.
Rozanne Els het met Johannes Pieter Nel gesels om meer uit te vind…
Wat was jou eerste indrukke van Christiaan se teks?
“Ek dink nie Christiaan het al ooit ’n swak teks geskryf nie, en ek het dadelik geweet dat so tipe storie nog nooit in Afrikaans vertel is nie. Dít het my vreeslik opgewonde gemaak. Dis snaaks, dis sexy en dis eg.”
Hoe het julle op die rolverdeling vir Koek besluit?
“Christiaan het die rolle van Moekie en Lulu spesiaal vir Sandra (Prinsloo) en Ashley (de Lange) geskryf, so daai was maklik.”
“Ons grootse kopseer aan die begin was wie Christelle sou vertolk, maar Cindy Swanepoel het dadelik by my opgekom. Ek ken vir Cindy van Stellenbosch se drama-dae af en ek was nog altyd bewus van haar ongelooflike talente in drama en komedie. Sy het ook die vermoë om baie identifiseerbaar oor te kom.”
“Ek het ook met Cindy aan die tweede seisoen van Magda Louw, wat ons net voor Koek verfilm het, gewerk, so ek kon regtigwaar nie iemand anders in die rol sien nie.”
Was daar iemand wat jou regtig beïndruk of verbaas het met hul spel?
“Al die akteurs was uitsonderlik, maar ek moet vir Llandi Beeslaar (Stefanie) en Clayton Evertson (Pitbull) uitsonder.”
“Llandi het seker die moeilikste rol gehad omdat haar karakter beide tragies en snaaks moet wees. Wat dit nog moeiliker gemaak het, was dat die karakter van Stefanie oorspronklik as ’n man, Fanie, geskryf is. Sy is volgens my een van die beste aktrises in die land.”
“Clayton het ook die uitsonderlike vermoë om sonder enige dialoog, net met sy teenwoordigheid, ongelooflike boeiend op skerm te wees.”
Hoe het julle op die vertellingstyl besluit?
“Uit die staanspoor, was die grootste ding dat dit geloofwaardig moet wees. Die kyker moet kan glo dat iets soos dit kán gebeur. Dít was ook een van die redes hoekom ek besluit het om die storiewêreld vanaf Kaapstad na die noordelike voorstede te skuif.”
“Die karakters moet gegrond oorkom, want die situasies waarin hulle hulself bevind, is belaglik genoeg. So, as die kyker kan vereenselwig met hoe die karakters optree en reageer, dan sorg dít vir komedie en drama.”
Ons is mal oor die klankbaan. Vertel ons meer daaroor
“Ons het vir Loki Rothman gevra om vir ons so ’n paar White Lotus-tipe snitte te maak. Ons het geweet ons wil ’n paar Afrikaanse klubtreffers hê, en hy het met “Piggyback Bitch” en “Bellville voel soos Vegas” vorendag gekom.”
“Die musiek moes die gevoel gee dat daar ’n ander, dieper, donkerder en meer opwindende wêreld bestaan buite dit wat ons ken en mee gemaklik is.”
Wat is van die belangrikste of prominentste temas in Koek?
“Die tema van ontrouheid en hoe maklik die mens ’n huwelik van jare sal opgee vir ’n paar minute van ontrouheid. Die dinamika tussen mans en vroue – en spesifiek die rol van vroue in nie net die huwelik nie, maar ook in die samelewing in geheel – was ook belangrik.”
“Dan, ook, dat jy nooit jouself moet onderskat nie, want jy het steeds die vermoë om jouself te verras met dit waartoe jy in staat is.”
Wat staan vir jou uit as ’n hoogtepunt van dié projek?
“Die komedie wat plek-plek sy kop uitsteek in hierdie mal wêreld wat ons geskep het. Ek is net dankbaar dat ek kan deel wees van ’n klomp nuwe storievertellers wat Afrikaanse films en reekse in ’n nuwe rigting help stoot.”
“Ek is baie lief vir ons bedryf en Afrikaans as taal, en ons moet nooit bang wees om enige tipe stories in Afrikaans te vertel nie.”
Dankie aan Rozanne Els en Showmax vir hierdie insig…
Ek moet erken dat hierdie een van die beter Afrikaanse reekse is wat ek die afgelope paar jaar gekyk het. Ek glo dit meeste van julle hierdie sal geniet,
Kyk die lokprent vir Koek hier onder:
As jy nog nie Showmax account het nie, kry joune HIER!
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Television kategorie op Running Wolf’s Rant.
Like what you just read? Join The Wolf Pack! Subscribe To Our Newsletter.
Explore our website, check out our Featured Articles or scroll down to see the articles that are related to this article below. We've been around since 2008, so there's plenty of content.
If you're in South Africa and looking for something to do, check out The SA Gig Guide (on our sister site SA Music Zone).
If getting more knowledge is part of your DNA - Check out the latest posts on Interesting Facts.