Zoé se nuwe enkelsnit, “Insecure Meisies”, gee ’n stem aan die dinge waaroor baie jongmense stilbly — boeliegedrag, selfbeeldkwessies en die druk om in te pas.
“Insecure Meisies” het haar aanlyn bekend gemaak, met meer as 268 000 kyke op TikTok en duisende gebruikers wat hul eie stories met die oorspronklike klank deel. Die liedjie het intussen ’n beweging geword.

Vir Zoé voel dit soos haar “eerste smaakie van sukses”, maar die ware impak lê nie in sosiale media-statistieke nie — dit lê in die rou eerlikheid van haar lirieke en die moed om pynlike waarhede te verwoord.
’n Lied wat onverwags ontplof het
Die sukses van “Insecure Meisies” is iets wat Zoé nooit kon voorspel of beplan het nie. Sy plaas liedjies dieselfde dag wat sy dit skryf op TikTok om mense se reaksies te toets — en “Insecure Meisies” het dadelik ontplof.
“Duidelik is hierdie nie een wat net ek gaan hoor nie!” vertel sy met verbasing.
Zoé se inspirasie vir die lied kom uit haar eie pynlike ervarings met boeliegedrag in haar kinderjare — van kommentaar oor haar gewig tot haar sproete en ore. “Ek kan nie bullies verdra nie,” sê sy reguit. “As mense tyd en energie uit hul dag wil vat om ander af te breek, sê dit meer van húlle karakter as van joune.”
Hierdie ervaring het haar gevorm as kunstenaar én as iemand wat vasbeslote is om ander se selfwaarde te beskerm.
’n Boodskap van selfwaarde
Die kernboodskap van “Insecure Meisies” is duidelik: jou waarde word nie bepaal deur wat ander van jou dink nie. Met lirieke soos “Insecure meisies wil jou sleg laat voel,” herinner Zoé luisteraars daaraan dat jaloesie en onsekerheid dikwels die wortel van afknouery is.
Sy vertel hoe haar ma haar geleer het om daardie gedrag vir wat dit regtig is te sien — ’n weerspieëling van die ander persoon se eie stryd, nie van jou waarde nie.
Maar vir Zoé is dit nog net die begin. Sy het ’n groter droom: om “Insecure Meisies” die beginpunt van ’n anti-boelieveldtog te maak. Sy wil met jong meisies en seuns gesels oor selfbeeld, boeliegedrag en die druk om in te pas — temas wat nie verdwyn wanneer jy ouer word nie.
Kyk die musiekvideo vir “Inscure Meisies” hier onder:
Jy kan die liedjie op Spotify en alle ander musiekstromingsplatvorms stroom.
Zoé maak musiek met ’n missie
Deur haar musiek gee Zoé woorde aan emosies waarmee talle jongmense sukkel. “Dit voel fantasties en vreesaanjaend tersefdetyd,” erken sy. Sy onthou hoe musiek haar deur moeilike tye gedra het — en nou wil sy dieselfde vir ander doen.
“Ek is niks sonder die mense wat my ondersteun nie,” sê sy dankbaar. “Julle maak hierdie klein dorpie-meisie se drome waar.”
Haar raad aan jongmense is eenvoudig: “Hou op om jouself te probeer verduidelik aan mense wat nie wil verstaan nie. Dis beter om geen vriende te hê as om vriende te hê wat jy nie kan vertrou nie.”
Sy glo dat ware vriendskap jou ligter maak — nie swaarder nie. En as sy terugkyk na haar tienerjare, sê Zoé: “Ek wens ek kon vir haar sê hoe cool en talentvol sy is.”
In ’n wêreld vol filters en sosiale druk, staan “Insecure Meisies” uit as ’n eerlike en opregte stem — en wys dat daar krag in kwesbaarheid is.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op Running Wolf’s Rant.
Jy sal dalk ook hiervan hou
-
Afrikaanse kunstenaar Zoé se nuwe enkelsnit "My Hede" verken die spanning tussen droomnajaag, uitbranding en selfvergifnis met 'n skerp rock-klank.
Zoé se nuwe enkelsnit "Golwe" neem luisteraars op 'n eerlike reis van selfontdekking terwyl sy haar tuisdorp verlaat om musiekdrome na te jaag.
-
Zoé se nuwe enkelsnit "Lief hê" gaan oor die eerste fase van verlieftheid en die gevoel dat hierdie liefde virewig gaan hou.
Zoé se debuut enkelsnit "Crazy Meisie" is nou uit. Die liedjie dra 'n boodskap dat jong dames genoeg is soos hulle is en hoef hulle goedkeuring van niemand anders nodig nie.


